Persoonlijke hulpmiddelen
U bent hier: Home Uitgaven Trefwoord Jaargang 1999 beplanning en bestuur - die mees
Document Acties

beplanning en bestuur - die mees

Beplanning en bestuur - die mees verwaarloosde aktiwiteitE in die leksikografie

D.J. van Schalkwyk
Buro van die WAT, Stellenbosch

1. Inleiding


As die temas van referate wat tydens die afgelope dekades by nasionale en internasionale leksikografiese konferensies en kongresse gelewer is, nagegaan word, blyk dit dat die beplanning en bestuur van leksikografiese projekte nie temas is wat gereeld by dié soort geleenthede hanteer word nie. Besoeke aan leksikografiese projekte bevestig ook dat beplanning en bestuur normaalweg nie hoog op hulle agendas verskyn nie. Die antwoord op 'n vraag soos: Hoe kan die werk aan 'n leksikografiese projek versnel word?, word gewoonlik in ander rigtings gesoek as by effektiewe beplanning en doeltreffende bestuur.
Zgusta (1971 : 348) se stelling: "I certainly do not know all lexicographic projects past and present; but of those I know not a single one was finished in the time and for the money originally planned" toon 'n algemene gebrek aan finansiële en tydsbeplanning deur leksikografiese projekte. 'n Gebrek aan beplanning by leksikograwe en uitgewers van leksikografiese produkte word ook deur Landau (1984 : 229) bevestig: "Usually the publisher is ignorant as to what's involved in preparing a dictionary, and the lexicographer is quite irresponsibly optimistic." Beide hierdie probleme kan deur goeie beplanning en bestuur opgelos word.

2. Wat is beplanning?

Kroon, e.a. (1994 : 125) sê: "Beplanning kan omskryf word as die bestuurstaak wat te doen het met doelbewuste besinning oor die toekomstige doelwitte van 'n onderneming of 'n deel daarvan, die middele en aktiwiteite daarby betrokke en die opstel en implementering van 'n plan om die doelmatige bereiking van die doelwitte moontlik te maak."
Beplanning is belangrik om die volgende redes (vgl. Kroon, e.a., 1994 : 127):
  • Beplanning help om by verandering aan te pas en onsekerheid te verminder,
  • Beplanning vestig die aandag op die doelwitte van die eenheid,
  • Beplanning verbeter prestasie en maak finansiële kontrole moontlik,
  • Beplanning rig bestuurders se pogings,
  • Beplanning is 'n voorvereiste vir beheer, en
  • Beplanning verseker gekoördineerde optrede
3. Wat is strategiese beplanning?
Strategiese beplanning is "die deurlopende langtermynbeplanningsproses van veral top- en middelbestuur om voortdurend die ondernemingsdoelstellings te midde van omgewingsverandering te bereik deur die ontwikkeling en uitvoering van 'n gepaste plan" (Kroon: 1994, 169).
Strategiese beplanning is 'n deurlopende proses. Dit is nooit afgehandel nie, maar moet altyd in pas gebring word met die veranderende eise wat aan die eenheid gestel word.
Alhoewel dit die top- en middelbestuur se verantwoordelikheid is om strategiese beplanning te doen en 'n strategiese plan te ontwikkel, is dit goeie strategie om van tyd tot tyd die hele onderneming hierby betrokke te maak. Dit bevorder 'n demokratiese gees en rig alle betrokkenes op die doelstellings van die onderneming.

4. 'n Raamwerk vir strategiese beplanning
Strategiese beplanning in die algemeen, maar ook van leksikografiese eenhede, kan aan die hand van die volgende raamwerk gedoen word:
a) Missiestelling
b) Strategiese fokusareas of prestasieareas
c) 'n Historiese oorsig
d) Situasiebeskrywing
· Die interne omgewing
· Die eksterne omgewing
e) Omgewingsanalise
· Beperkende faktore (swak punte) in die interne omgewing
· Ondersteunende faktore (sterk punte) in die interne omgewing
f) Omgewingstendense
· Beperkende faktore (bedreigings) in die eksterne omgewing
· Ondersteunende faktore (geleenthede) in die eksterne omgewing
g) Scenario's
h) Aannames oor die toekomstige strategiese posisie van 'n eenheid
i) Doelstellings
· Langtermyndoelstellings
· Mediumtermyndoelstellings
· Korttermyndoelstellings of strategiese doelwitte
j) Plan van aksie
Dit spreek vanself dat hierdie raamwerk met geringe aanpassings benut kan word om sowel 'n nuwe as 'n bestaande leksikografiese eenheid te beplan. In hierdie artikel sal op die beplanning, of herbeplanning, van 'n bestaande leksikografiese projek gekonsentreer word. Vervolgens sal die rol wat elkeen van bogenoemde punte in die beplanningsproses speel, kortliks bespreek word. Gegewens uit die strategiese beplanning van die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) word 'n enkele keer as toeligtingsmateriaal gebruik.

5. Strategiese beplanning van 'n leksikografiese eenheid

5.1 Missiestelling
Daar is 'n rede vir die bestaan van elke leksikografiese eenheid. Hierdie rede moet in die missie uitdrukking vind. Die missie moet ook 'n aanduiding gee van die funksies wat deur die eenheid verrig moet word. In die missie van 'n eenheid word die strewe van die betrokkenes en die taak van die eenheid verwoord. Die rigting waarin die eenheid wil beweeg, moet duidelik uit sy missie blyk.
Vir 'n sakeonderneming is die belangrike vraag: Wat is jou besigheid? Hierdie vraag moet in die missie beantwoord word. Die rigting waarin 'n leksikografiese eenheid op die langtermyn wil beweeg, word in die missie gestel. Die missie rig dan die werksaamhede van die eenheid.
Die missie van die Buro van die WAT is om die Afrikaanse taal en taalgebruiker en die leksikografie in die algemeen te dien.
Die volgende take spruit voort uit dié missie:
a) om die samestelling van die WAT voort te sit, so spoedig moontlik af te handel en die WAT van tyd tot tyd te verbeter deur
(i) die woordeskat van die Afrikaanse taal in al sy variasies deurlopend, verteenwoordigend en omvattend in leksikografies bewerkbare vorm te versamel, te orden en te bewaar, en
(ii) die versamelde materiaal volgens wetenskaplik verantwoorde leksikografiese beginsels in die vorm van 'n gesaghebbende, gebruikersgerigte, sinchronies verklarende woordeboek in opeenvolgende dele te bewerk;
b) om op 'n beheerde wyse toegang aan bona fide-navorsers tot die taalmateriaal en bronne van die Buro te verleen en taalnavrae te beantwoord;
c) om hom te beywer om saam met buiteouteurs toepaslike leksikografiese produkte vir Afrikaans, maar ook vir die ander tale van Suid-Afrika tot stand te bring;
d) om die WAT en hierdie satellietpublikasies koste-effektief te produseer;
e) om hierdie produkte dinamies en ekonomies te bemark;
f) om 'n groeipunt en stimulus vir leksikografiese aktiwiteite en metaleksikografiese denke te wees;
g) om met Suid-Afrikaanse en buitelandse leksikografiese en taalkundige instellings te skakel met die oog op die uitruil van leksikografiese kennis, inligting en publikasies;
h) om 'n bydrae tot die leksikografiepraktyk en teorie te lewer in die vorm van wetenskaplike geskrifte;
i) om deur samewerking met eksterne woordeboekprojekte die algemene peil van die leksikografie, veral in Afrika, te help verhoog;
j) om deur opleiding en werkgenerering 'n aktiewe rol te speel in die regstelling van ongelykhede op leksikografiese terrein;
k) om 'n bydrae te lewer tot die vestiging en uitbouing van die Suid-Afrikaanse leksikografie ter ondersteuning van die doelwitte van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad; en
l) om in sy werksaamhede en produkte altyd behoeftegerigtheid, gehalte en 'n eenheidskarakter na te streef.

5.2 Strategiese fokusareas of prestasieareas
Twee belangrike vrae wat altyd in 'n leksikografiese eenheid gestel en beantwoord moet word, is
a) Word die regte dinge in die eenheid gedoen? en
b) Word die regte dinge in die eenheid reg gedoen?
'n Derde vraag wat bygevoeg kan word, is
c) Word die regte dinge in die eenheid reg gedoen op die regte tyd?
Deur die beantwoording van die eerste vraag sal die eenheid op sy fokus- of prestasieareas gerig word. Die tweede vraag het onder andere te doen met die norme wat geld in 'n eenheid en die derde een, met teikendatums.
Die missie van 'n eenheid begelei hom in die identifisering van sy fokusareas. Dit is ten opsigte van hierdie fokusareas wat 'n eenheid moet presteer indien hy uitvoering aan sy missie wil gee.
Indien 'n eenheid nie al sy fokusareas suiwer identifiseer nie, sal sekere van sy verantwoordelikhede agterweë bly en indien areas bygehaal word wat nie fokusareas is nie, sal onnodige werk verrig word. Beide hierdie werkwyses sal 'n negatiewe effek op die eenheid hê.
Die volgende areas, of ten minste sommige daarvan, vorm die fokusareas van elke leksikografiese eenheid:
Leksikografiese behoeftebepaling; beplanning van die woordeboek; materiaalversameling; redaksionele bewerking van die materiaal; uitleg, druk en bind van die woordeboek(e); bemarking; navorsing; personeel; finansies; steundienste, soos inligting- en rekenaarsteundienste; en beplanning en bestuur van die leksikografiese eenheid.
Elkeen van hierdie areas vra vir gespesialiseerde kundigheid, ook beplanningskundigheid, om 'n detailbeplanning daarvan te kan doen.

5.3 'n Historiese oorsig
Die suksesse en mislukkings van 'n eenheid dien as noodsaaklike invoer by die strategiese beplanning daarvan; daarom is dit 'n goeie strategie om voortdurend die geskiedenis van die eenheid op te dateer. Dit is belangrik dat 'n eenheid voortbou op die suksesse wat behaal is en om die mislukkings nie te herhaal nie.
Die beskikbaarheid van die eenheid se geskiedenis, ook sy kontemporêre geskiedenis, en 'n kennis daarvan stel nuwe kollegas in staat om spoediger by die werksomgewing in te skakel.
Dit is baie moeilik, waarskynlik onmoontlik, om 'n eenheid tot nuwe hoogtes te beplan en te bestuur indien sy verlede totaal geïgnoreer word.

5.4 Situasiebeskrywing
Vir goeie strategiese beplanning is dit belangrik om helder insig in die situasie te hê waarin die eenheid hom tydens die beplanningsoefening bevind. Hierdie situasie word deur sowel die interne as die eksterne omgewing bepaal.
Die interne omgewing van 'n eenheid omsluit alles wat onder sy beheer ressorteer. Alle ander faktore wat die aktiwiteite van die eenheid kan beïnvloed, maar waaroor hy nie self beheer het nie, word as deel van die eksterne omgewing beskou, byvoorbeeld die politieke en ekonomiese omstandighede wat in 'n land heers.
Sowel die stand van elke fokusarea in die interne omgewing as die invloed van die eksterne omgewing op die fokusareas moet in die situasiebeskrywing verreken word.
Die invloed wat veranderende omstandighede op die interne en eksterne situasie uitoefen, moet deurlopend deur die bestuur gemonitor word sodat moontlike effekte wat dit op die beplanning van die eenheid kan uitoefen, nie ongemerk verbygaan nie. Die eenheid moet altyd in simbiose verkeer met sy interne en eksterne omgewing, en die beplanning van die eenheid moet hierdie simbiose bevestig.

5.5 Omgewingsanalise
Die welstand van 'n leksikografiese eenheid hang in 'n hoë mate daarvan af of die bestuur daartoe in staat is om sowel die swak as die sterk punte in die interne omgewing te identifiseer en daarvolgens te handel.
Die swak punte of beperkende faktore van 'n eenheid verhoog sy kwesbaarheid in 'n veranderende omgewing. Beplanning moet daarop gerig wees om die effek van hierdie swak punte sover moontlik te verminder of selfs heeltemal uit te skakel. Dit moet 'n strategie van die bestuur wees om swak punte in sterk punte om te skep.
Die sterk punte of ondersteunende faktore gee die eenheid die geleentheid om pro-aktief op te tree en om sukses te verseker. 'n Eenheid se sterk punte vorm die basis waarop hy met selfversekerdheid met die buitewêreld kan skakel.
Die betrokkenes by 'n eenheid moet nie die identifisering van sy swak punte tydens 'n omgewingsanalise vrees nie, want solank 'n organisasie nie sy kwale kan diagnoseer nie, is herstel onmoontlik. Die betrokkenes moet egter ook nie behep wees met die swak punte van die eenheid nie, want so 'n beheptheid kan die eenheid uiteindelik totaal verlam.
Leksikografiese eenhede is soos mense, hulle is nooit so swak dat hulle nie ook sterk punte het nie.

5.6 Omgewingstendense
Tendense in die eksterne omgewing van 'n eenheid kan bedreigings of geleenthede vir die eenheid inhou. Elke potensiële bedreiging of beperkende faktor moet geïdentifiseer, geanaliseer en hanteer word. Op dié wyse word risiko's waaraan die eenheid blootgestel mag word, verminder.
Die sukses van 'n eenheid hang in 'n hoë mate van die benutting van die geleenthede of ondersteunende faktore in die eksterne omgewing af. 'n Goeie begrip van die geleenthede en die regte gebruikmaking daarvan kan 'n bydrae lewer, nie slegs om die bedreigings te neutraliseer nie, maar ook om die effektiwiteit van die eenheid te verhoog.
Die invloed wat bedreigings of geleenthede in die eksterne omgewing op elke fokusarea van die eenheid kan uitoefen, moet in alle omstandighede verreken word. Die strategie moet hier ook wees om bedreigings in geleenthede om te skep. By die ontleding van 'n bedreiging, blyk dit dikwels dat die regte benutting daarvan 'n belangrike geleentheid inhou. So byvoorbeeld kan die politieke omstandighede in 'n land 'n taal se toekomsmoontlikhede onder druk plaas, maar dié druk kan weer die bemarking van woordeboekprodukte stimuleer.

5.7 Scenario's
Omdat alle besluite wat geneem word implikasies vir die toekoms van 'n eenheid inhou, is dit baie belangrik dat die betrokkenes 'n aanvoeling vir die toekoms waarin die eenheid moet funksioneer, ontwikkel. Die doel van 'n scenario is om die toekoms waarbinne die eenheid sy rol moet vertolk, so getrou moontlik te konstrueer. By die konstruksie van dié toekoms kan die verlede en die huidige situasie en ook die linguistiese en leksikografiese tendense as belangrike invoere dien. Uit die scenario kan die eenheid 'n aanduiding kry van watter uitdagings op hom wag, en van die effek wat huidige besluite in die toekoms kan hê. 'n Scenario is die uitkoms van 'n besinning oor die toekoms en die invloed wat die toekoms op die eenheid kan hê. 'n Scenario plaas die besluitnemers van die eenheid in 'n posisie om die geantisipeerde gevolge van die besluite krities te evalueer.
Hoe turbulenter die eksterne omgewing, hoe moeiliker is dit om 'n scenario te ontwikkel wat sy geldigheid oor 'n langer tydperk behou. In turbulente omstandighede kan 'n scenario vir 'n korter tydperk, bv. drie of vyf jaar ontwikkel word. Dit moet dan deurlopend beoordeel word met die oog op aanpassing of hersiening.
Dit kan 'n goeie oefening wees om 'n negatiewer toekoms te antisipeer as wat die geformuleerde scenario te kenne gee en om dan gebeurlikheidsbeplanning aan die hand hiervan te doen. Die werklikheidsgetrouheid van 'n scenario hang in 'n hoë mate saam met die visie van diegene wat die scenario ontwikkel en die ontwikkeling van scenario's verskerp weer die visie van die betrokkenes.
Die term scenario in sy oorspronklike betekenis verwys na 'n opsomming of skets van die storielyn of intrige van 'n drama wat besonderhede oor die tonele, situasies, e.s.m. verskaf. 'n Scenario van 'n eenheid moet die toekomsaspekte saamvat wat 'n invloed op die fokusareas van die eenheid kan uitoefen.

5.8 Aannames oor die toekomstige strategiese posisie van 'n eenheid
Beplanning is altyd toekomsgerig. Aangesien die toekoms onbekend is, word daar by beplanning naas scenario's ook met aannames gewerk om 'n aanvoeling vir die toekoms te ontwikkel. Aannames word gemaak in verband met die posisie van die eenheid op 'n bepaalde punt in die toekoms. Hierdie punt kan op drie of vyf jaar in die toekoms gestel word en na dié punt word verwys as die toekomstige strategiese posisie. Dit het te doen met dié posisie waar die eenheid wil staan op 'n gegewe punt in die toekoms.
Die aannames wat gemaak word, moet deur die missie van die eenheid gerig word en aannames moet ten opsigte van alle fokusareas gemaak word. Aannames moet ondersteun word deur dit wat in die verlede deur die onderneming bereik is, deur sy huidige situasie en vlak van ontwikkeling, sowel as deur die visie van die betrokkenes. Kortom, alle inligting wat deur die strategiese beplanningsoefening tot dusver gegenereer is, moet by die maak van aannames in berekening gebring word.
Hoe beter die strategiese beplanning gedoen is en hoe meer ervaring die betrokkenes in die maak van aannames het, des te realistiser sal die aannames blyk te wees wanneer die oorspronklike toekomstige strategiese posisie bereik word. Dit spreek vanself dat hierdie posisie altyd in die tyd vooruit beweeg en daarom moet voortdurend nuwe aannames gemaak word. Indien aannames korrek benut word, kan dit as 'n belangrike gids vir die bestuur dien. Realistiese scenario's en beplanningsaannames maak pro-aktiewe bestuur moontlik en beperk reaktiewe bestuur wat normaalweg 'n aanduiding van krisisbestuur is.

5.9 Doelstellings
In die lig van alle gegewens wat op hierdie stadium van die beplanningsoefening reeds bekend is, is dit baie makliker om doelstellings te formuleer as wat dit die geval is sonder dié gegewens. Doelstellings moet die eenheid rig om die regte dinge reg gedaan te kry op die regte tye. Indien dit gebeur, sal die eenheid 'n doeltreffende en effektiewe organisasie wees.
'n Eenheid moet korttermyn-, mediumtermyn- en langtermyndoelstellings hê wat hom stap vir stap na sy einddoel lei. Die langtermyndoelstellings moet die eenheid rig solank as wat dit bestaan. Die mediumtermyndoelstellings, vir die volgende drie of vyf jaar, moet van die langtermyndoelstellings afgelei word. In dié proses kan die aannames oor die toekomstige strategiese posisie 'n belangrike ondersteunende rol vertolk. Die korttermyndoelstellings of strategiese doelwitte vir elke jaar word van die mediumtermyndoelstellings afgelei.
Op dié wyse word 'n raamwerk van doelstellings en doelwitte ontwikkel wat die eenheid op 'n beplande en georganiseerde manier rig.
Sodra die strategiese doelwitte vir die komende jaar geformuleer is, moet dit geprioritiseer word. Prioritisering van doelwitte moet ten opsigte van die totale eenheid en van die onderafdelings van die eenheid afsonderlik gedoen word. Die prioriteitsdoelwitte moet dan geoperasionaliseer word, sodat die betrokkenes duidelikheid kan hê oor die aktiwiteite wat uit elke doelwit voortvloei. Dié gegewens dien as waardevolle invoer vir kosteberekening en die opstelling van 'n doelwitbegroting.

5.10 Plan van aksie
Beplanning is van nul en gener waarde indien dit nie geïmplementeer word nie; daarom moet aksieplanne opgestel en die personeel georganiseer word om die planne tot uitvoer te bring. Indien dit nie gebeur nie, word beplanning as 'n doellose en tydverkwistende aktiwiteit beleef, wat die hele beplanningsoefening diskrediteer.
'n Aksieplan is onvolledig indien dit naas die planne nie ook die uitvoerders van die planne noem en teikendatums bevat waarop die planne tot uitvoer gebring moet wees nie. Die teikendatums moet so vasgestel word dat die eenheid as 'n geheel stap vir stap sy doelwitte kan bereik.

6. Bestuur van 'n leksikografiese eenheid
Beplanning is 'n bestuursfunksie; daarom is dit nie slegs die bestuur se taak om toe te sien dat beplanning gedoen word nie, maar dit is ook die verantwoordelikheid van die bestuur om toe te sien dat aksieplanne uitgevoer en die beplanning geïmplementeer word. Kontrole moet toegepas word om seker te maak dat die beplanning korrek geïmplementeer word en die uitkomste moet geëvalueer word om vas te stel of die gewenste resultate bereik word. Indien die gewenste resultate bereik word, kan voortgegaan word met die implementering van die beplanning, anders moet daar herbeplan word.

6.1 Produksiebestuur
Die hoofdoel by die bestuur van 'n leksikografiese eenheid moet wees om werks- en ander omstandighede te skep wat dit vir die betrokkenes moontlik maak om hoëkwaliteituitsette te lewer. Dié uitsette moet nie sporadies nie, maar deurlopend gelewer word.
Uit die totale bemoeienis van die eenheid moet dit duidelik blyk dat die bestuur 'n hoë premie plaas op produktiwiteit. Produksie moet aangemoedig en prestasie beloon word. Produktiwiteit kan nie op 'n verantwoordelike wyse verhoog word indien dit nie gemeet kan word nie. Produksienorme is noodsaaklik vir produksiemeting.
By leksikografiese eenhede bestaan daar dikwels die opvatting dat die produksie van leksikograwe nie meetbaar is nie. Waar daar wel sprake is van produksiemeting val die klem feitlik uitsluitlik op insette, byvoorbeeld op die hoeveelheid sitate wat jaarliks verwerk moet word, terwyl min aandag aan uitsette bestee word. Uitsette is vir die bestuurder 'n waardevolle bestuursmeganisme. In die bestuursproses is dit uitsette wat gekontroleer en geëvalueer moet word. Dit is vir die bestuurder van baie meer waarde om te weet hoeveel bladsye manuskrip gemiddeld maandeliks gelewer word as wat dit is om te weet hoeveel sitate verwerk word. Sodra die gemiddelde uitsette van die personeel in 'n mate voorspelbaar raak, word die berekening van teikendatums en hulpbronbehoeftes baie makliker.

6.2 'n Bestuurstelsel
Omdat die prestasie wat in 'n eenheid gelewer word, bestuur moet word, moet die bestuurder 'n bestuurstelsel kies of ontwikkel waarmee prestasie bestuur kan word. Die prestasie wat die eenheid as geheel behaal, hang saam met die uitvoering van die aksieplanne en die realisering van die doelwitte. Die realisering van doelwitte moet op 'n geïntegreerde wyse bestuur word sodat die afdelings van die eenheid nie voor mekaar uit beweeg nie, maar dat die eenheid in sy geheel sy doelwitte op die gesette tye verwesentlik.
So 'n bestuurstelsel staan bekend as 'n geïntegreerde prestasiebestuurstelsel en lewer goeie resultate by die bestuur van 'n leksikografiese eenheid.

7. Ten slotte
Beplanning waarborg nie die sukses van 'n leksikografiese eenheid nie, veral as die beplanning nie effektief bestuur word nie. 'n Gebrek aan doeltreffende beplanning en effektiewe bestuur is 'n waarborg vir tyd- en geldverkwisting.

Bibliografie
Kroon, J. (Red.). 1994. Algemene bestuur. Pretoria: HAUM-Tersiêr.
Landau, Sidney I. 1984. Dictionaries: The Art and Craft of Lexicography. New York: The Scribner Press.
Zgusta, L. 1971. Manual of Lexicography. The Hague: Mouton.

Powered by Plone